Gavin Prins

Your guide to the world of entertainment


Leave a comment

ROCKET MAN VS MATERIAL GIRL. Publisiteitsfoefie of waarheid?

Elton John wat met Madonna (links) baklei. FOTO: Superiorpics

Ai, hier gaan ons al weer! Celebrities wat mekaar slegsê  in die openbaar. En hul tydsberekening kan nie beter wees nie. Want sodra daar ‘n konsert of ‘n nuwe CD aan’t kom is, is dit tyd vir die bekendes om so bietjie modder te gooi. En watter beter manier is daar as vir Elton John om Madonna ‘n “stripper” te noem? Elton vier immers 40 jaar sedert sy gewilde Rocket Man vrygestel is. En hy vier dit met ‘n wêreldtoer in onder meer Australië. Die einste land waar hy Madge op ‘n TV-program beledig deur te sê sy moet aftree.

Publisiteitsfoefie? Of die waarheid? Die koerante en tydskrifte kla nie. Hulle verkope skiet die hoogte in. Redakteure glimlag. Ek blameer nie die koerante nie. Ons skryf immers oor feite – soos dit gebeur en wanneer dit gebeur. Maar daai bestuurders en woordvoerders van die bekendes….

 ‘n Paar jaar gelede het Anton Goosen en Steve Hofmeyr mekaar ook in die bokskryt bevind. Anton het gesê Steve gebruik “backtracks” en dis nie waaroor musiek behoort te gaan nie. Steve het teruggekap (het ons dan nou anders verwag?) en gesê Anton is ‘n “flash in the pan”.  Laasgenoemde frase beteken rofweg iemand wat sukses behaal het en nou sukkel. En toe kom die groot brugbou-konsert. Steve en Anton maak vrede. Dit gons en die media skryf. Ons sal maar nie eens praat van daai brugbou-konsert wat toe afgebreek is met nog ‘n bakleiery wat daarna gevolg het nie. 

Daar was destyds ‘n celebrity-bestuurder wat vir die media genooi het om te skryf oor die model en aktrise Tanit Phoenix en die Olimpiese swemmer Roland Schoeman wat in ‘n verhouding is. Sosiale joernaliste het die twee oorval as hulle by partytjies opdaag. Maar iets in die lyftaal van die twee het gewys hierdie is ‘n gerieflike verhouding.

Toevallig was albei by dieselfde bestuurder. Tanit het gesukkel om haar TV-loopbaan op die been te bring en Roland was die Olimpiese held. En binne ‘n baie kort ruk is die twee toe “uitmekaar”.   

Wat van ‘n regte geveg? Soos destyds toe die Amerikaanse sanger Prince blykbaar vir die Ierse sangeres Sinead O’Connor met die vuis wou bydam, soos berig in die London Mirror. Prince het blykbaar sy vinger in Sinead se gesig gesit en wou haar slaan. Sy het blykbaar hom toegesnou met vloekwoorde. Of Rolling Stones se Mick Jaggar en Charlie Watts? Mick het Charlie vroeg oggend in sy hotelkamer gebel terwyl die band in Amsterdam konsert gehou het en gesê “My dromspeler, kom sluit by ons aan”. Charlie het hom mooi aangetrek en toe afgestap na die vergadering en vir Mick met sy vuis in die gesig geslaan. “Ek is nie JOU dromspeler nie.”Die baklei was nie bedoel om koerant opskrifte te haal nie en ook nie om CD en kaartjie verkope op te jaag nie. Geen pretensie.

Elton het toe sommer Madge in sy onderhoud gebring waar dit eintlik oor sy konserte moes gegaan het. Maar die kaartjies moet verkoop word. Elton moet die voorblaaie haal. En ons moet die inligting soos soetkoek opvreet.

Ek dink nie so nie.